Gildes

Gildes was beroepsorganisasies wat in die Middeleeue kenmerkend was vir die gemeenskapslewe van Wes-Europese stede en wat vername sosiaal-ekonomiese funksies vervul het. Gildes het rondom die 11e eeu uit die destydse broederskappe van stroop- en krygsbendes, monnike en rondreisende koopmanne ontstaan. Die religieuse grondslag van die broederskappe het deur die eeue by gildes bly voortbestaan. Die eerste gildes was handelsgildes.

Later het die verskillende ambagte hul eie gildes gevorm, wat gewoonlik uit leerjongens, vakmanne of dagloners en meesters bestaan het. Die gildebestuur het uit verkose meesters bestaan en het reëls neergelê vir die opleiding van ambagsmanne, werkprosedures, pryse en dies meer. Vir die verbreking van die reëls is swaar boetes opgelê. Daarby het gildes ook die sosiale gedrag van hul/ede voorgeskryf en toegesien dat lede tydens siekte of dood ondersteun word. In die 14e eeu, toe gildes op hul magtigste was, het hulle baie invloed in die stedelike bestuur gehad en in sommige streke selfs die stedelike beheer oorgeneem.

Hierdie periode was egter net van korte duur en daarna moes die gildes baie van hul politieke en ekonomiese mag afstaan. Naas 'n veranderde ekonomiese klimaat het die nuwe ideologie van volkome individuele vryheid wat in die 17e eeu begin posvat het, veroorsaak dat gildes aan die einde van die 18e en begin van die 19e eeu heeltemal verdwyn het.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search